Rynrivier | |
---|---|
Die Loreley in Rynland-Palts. | |
Die stroomgebied van die Ryn. | |
Oorsprong | Voorryn en Agterryn (Sankt-Gotthard-Massiv (Switserland |
Monding | Ryn-delta, Nederland Noordsee |
Stroomgebied | Switserland, Oostenryk, Liechtenstein, Duitsland, Frankryk, Nederland |
Lengte | 1 238,8 km[1] (766 myl) |
Oorspronghoogte | 2 345 m (7 694 voet) |
Mondinghoogte | 0 m |
Gemiddelde afloop | 2 000 m³/s (70 629 ft³/s) |
Stroomgebiedopp. | 185 300 km²[2] (65 637 myl²) |
Kaart van die Ryn-bekken in Europa.
|
Die Ryn (Duits: Rhein, Frans: Rhin, Italiaans: Reno, Retoromaans: Rain, Nederlands: Rijn, Latyn: Rhenus) is 'n rivier in Europa met 'n lengte van 1 238,8 kilometer.
Die naam Ryn is van Keltiese oorsprong en beteken vloeiend. Tesame met die Donau het die Ryn die grootste gedeelte van die noordelike grens van die Romeinse Ryk gevorm. Die Romeine het die rivier Rhenus genoem. Sedert die antieke tydperk is die Ryn 'n besige waterweg.
Met jaarliks sowat 300 miljoen ton se vrag, wat hier vervoer word, is die Ryn die belangrikste waterweg in Europa. Tagtig persent van alle goedere, wat op Europese waterweë vervoer word, word op Rynskepe gelaai. As waterweg verbind die rivier groot nywerheidsgebiede langs sy oewer met mekaar en bly danksy 'n gesofistikeerde radarstelsel 365 dae per jaar bevaarbaar – selfs in digte mis.[3]
Die Ryn is daarnaas een van die hoofare van Europese kultuur wat die Alpegebied met die Noordsee verbind en oor 'n lang afstand die grenslyn tussen die oorspronklik Romeins-oorheerste gebiede van Suid- en Wes-Europa en streke onder Germaanse invloed vorm. So het die meeste stedelike nedersettings langs die Ryn aan sy linkeroewer ontstaan. Van hul beskeie begin as militêre kampe het hulle gegroei tot vroeg-Christelike biskopsetels en uiteindelik tot Middeleeuse handelspilpunte.[4]